Sy was maar 12 toe sy besef het haar ouers se huwelik gaan nie nog langer hou nie. In haar afgesonderheid, het sy haarself geleer om haar eie probleme op te los. Sy was ‘n alleenloper. Sy w
as Sheldean Cloete.
Mens het haar net geken van sien. Haar lippe was totaal en al geslote by enige geselsery. Selfs as mens net bedagsaam groet het sy grond toe gestaar. Sy was donker, seergemaak en alleen. Haar oë was ‘n diep, modderbruin, haar hare so swart soos die nag. Haar lippe altyd droog, opsoek na ‘n druppeltjie nattigheid. As jy mooi oplet kon jy sien dat sy al baie haar lip stukkend gebyt het. Sy was nie ‘n verwaarloosde of ‘n afgeskeepte mens nie. Sy was beeldskoon, maar sy was altyd eenkant in die walms van haar eie drome.
Haar moeder was ‘n opregte dame. Jy kan dit sien aan die manier hoe Sheldean haar lang bene beweeg. Haar lyf was dun, nie ongesond of anoreksies nie, net dun. Sy is nie stadsmens nie. Haar bewegings is gevul met senuweeagtigheid, dog baie elegant. Die geluid van haar hakskoene verklap haar huidige posisie. Woonstelblok nommer 3 is waar sy haar tuiste bevind. Nommer 167 is hare.
Die woonstel is dieselfde donker as haar hare. Koffiekoppies staan gepak op die kombuistafel, die lug ruik na geroosterde koffiebone. Oral in die vertrek is geraamde sketse en foto’s. Alles in swart en wit. Die foto’s en sketse blyk een tema te skep. Almal was van hande, verkieslik sterk, manlike hande. Daar is net een wat uitstaan. Een van ‘n klein bebloede dogtertjie. Die hele skets is swart en wit, die bloed is egter gekleur, nie rooi nie, maar blou. Sheldean staar vir ‘n oomblik na haar oudste skepping. Haar gedagtes vlug na daardie dag.
Sy was maar net 12 op daardie stadium. Sy het pas tuisgekom met ‘n eerste plek vir haar gesinsportret wat sy in die kunstefees ingeskryf het. Al glansend het sy die huis binnegestap met die hoop dat Mamma en Pappa nie vanaand sal baklei nie. Dis stil. Sy roep na haar moeder. Sy roep weer. Sonder antwoord dra haar voetjies haar kombuis toe. Haar portret val op die grond. Sy uiter ‘n gil.
Sy roep na haar moeder. Sy roep weer met stortende trane in haar oë en haar gemoed, maar haar Mamma bly le in haar bloedpoel. Haar pa is nerens te sien nie. Sheldean Cloete gaan lê met haar kop op haar ma se bebloede bors. Dis stil. Die polisie het kort daarna by die huis opgedaag, haar van haar Mamma af weggevat. Heeltemal weggevat.
Sy was alleen. In haar afgesonderheid het sy geleer om haar eie probleme op te los. Sy was Sheldean Cloete.
September 3, 2008
Categories: Everyday life and struggles . . Author: aventer . Comments: No Comments